Arbeidsterapie by SuiderbergSkool
“Arbeidsterapeute gebruik wetenskaplik gekose betekenisvolle aktiwiteite om diverse kliënte met verskeie probleme te help om optimaal te funksioneer. Dit stel hulle in staat om so onafhanklik moontlik te wees en waardigheid en kwaliteit van lewe te ervaar.” (vertaal uit Engels vanaf die OTASA definisie)
Skoolgebaseerde arbeidsterapeute lewer ‘n belangrike bydrae binne die opvoedingspan. Hulle help kinders om hul rol as skoliere te vervul en om ‘n grondslag te lê vir hul toekomstige rolle as werknemers of entrepreneurs.
Die arbeidsterapeute by Suiderbergskool werk met leerders in die Voorbereidingsprogram om onderliggende apsekte soos visuele persepsie en fyn motoriese vaardighede aan te spreek, om akademiese uitkomste te ondersteun en om te help om leerders voor te berei vir die praktiese vakke. Betekenisvolle aktiwiteite word geselekteer om spesifieke doelwitte aan te spreek. Aktiwiteite sluit twee-dimensionele werkkaarte en diagramme in, sowel as drie-dimensionele aktiwiteite en visio-motoriese integrasie take om konstruksie- en visualiseringsvaardighede te verbeter.
Die skool is ook besig om ‘n nuwe terapeutiese rekenaarsentrum in te rig waar aktiwiteite deur middel van interaktiewe rekenaarprogramme aangebied sal word.
Die arbeidsterapeute werk ook met leerders in Jaar 3 en Jaar 4 in die Uittree Program aan aspekte soos sosiale vaardighede, self-help vaardighede en voorberoepsvaardighede om te help om hulle voor te berei vir die oorgang van skool na die wêreld van werk of verdere opleiding. Aandag word veral gegee aan selfkennis, selfaanbieding-vaardighede asook werksoek- en werkbehoudingsvaardighede.
Die arbeidsterapeute streef daarna om leerders van Suiderbergskool te help om hul volle potensiaal te bereik.